Pieter F. Bruwer
Rita Bruwer

Rita Bruwer

Rita Bruwer

Margaretha Dorothea Bruwer (gebore Wilmans) is op 20 Maart 1930 op Glencoe in Natal gebore as die oudste dogter van Roelof Petrus Wilmans en Elisabeth Petronella Nel. Haar pa is in 1903, direk na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog in Germiston in die Transvaal gebore. Sy moeder en ouer broers en susters was tydens die oorlog in `n konsentrasiekamp opgesluit waar een van sy broers dood is. Dit het groot bitterheid by die familie veroorsaak. Die familie wat finansieel deur dié oorlog geruineer en verarm was moes toe `n heenkome op die Lichtenburg Delwery gaan soek waar hy opgegroei het. Daar moes hy na `n "Milner-skool" gaan waar Afrikaanse kinders gedwing is om deur Engelsmedium onderrig te kry - hulle is verbied om Afrikaans te praat. Hy het nie van skool gehou nie omdat hy so baie pak gekry het weens sy weiering om die taal van die "Jingo" te leer. Rita, haar Pa en Ma en suster Freda Na skool was een van die min werksgeleenthede wat beskikbaar was by die Suid-Afrikaanse Polisie - maar ook dáár was die hele topstruktuur byna uitsluitlik Engels en sou hy ook swaar leef. Tydens die Tweede Wêreld Oorlog is daar van alle lede van die polisiemag verwag om die sogenaamde "Rooi Eed" te onderteken waardeur hulle hul bereid verklaar het om vir Brittanje in Noord-Afrika te gaan veg. Weens bogenoemde geskiedenis het hy geweier. Die gevolg was dat hy aan geweldige diskriminasie en intimidasie onderworpe was van die kant van die Engelssprekende offisierskorps van die polisie in Durban waarheen hy verplaas was.

Rita het as kind die Tweede Wêreld Oorlog in Durban deurleef. Sy kon baie stories vertel van "bomdril' wat hulle by die skool gehad het en van die verdonkering deur komberse voor die vensters te hang sodat geen lig na buite kon skyn nie. Dan was daar ook die rantsoenering van kos wat skaars was en winkels leeg - meeste goed kon slegs ten duurste op die swartmark aangekoop word. Sy was as `n jong kind baie sieklik aangesien sy weens onder andere rumatiekkoors vir lang tye in die hospitaal moes bly.

Willem en Rita tydens hul verlowing

Polisiemanne is nie toegelaat om gedurende die oorlog te bedank nie - na afloop van die oorlog is hy verplaas na Richmond (KP) waar hy toe vroeë aftrede geneem het. Daarna volg `n kort verblyf in Nieu Bethesda - waar Rita as kind vir Helen Maartens leer ken het - sy was `n niggie van haar Pa. (Sy sou later bekend word as die skepper van die uilhuis in Nieu-Bethesda) Daarna het die gesin hul in die nabyliggende stad van Oos-London gaan vestig. Dit was terwyl die gesin daar gewoon het dat Rita haar toekomstige man daar ontmoet het - hy was Willem Bruwer `n jong polisiekonstabel wat van Pretoria af na Oos-London verplaas was.

Hulle is op 31 Oktober 1953 daar getroud en vier kinders is uit die huwelik gebore: Elna, Pieter, André en Roelof. Aangesien polisiemanne soveel verplaas word is daar dikwels gespot en gesê hulle word geken deur "hul stukkende meubels en dom kinders" - laasgenoemde omdat hulle soveel verskillende skole moes bywoon. André was weens beserings tydens geboorte serebraal gestremd en sy versorging het vir Rita `n besondere verantwoordelikheid geword. Willem en Rita tydens hul troue Die daaropvolgende verplasings was weer noordwaarts en die gesin sou vanaf die vroeë 1960's op verskillende plekke in die Transvaal woonagtig wees waar hul kinders sou opgroei. In later jare in Johannesburg het Rita ook weer begin werk.

Deur die jare sou hulle op verskillende terreine betrokke raak by kerklike, politieke en kultuur-aktiwiteite. Deur die kerk het sy betrokke geraak by die geestelike versorging van die pasiënte van `n saal van die Weskoppies Inrigting vir Geestelike Versteurdes. Sy het haar die lot van hierdie mense baie aangetrek en dit spreek ook uit verskeie van haar verse. Verder was hulle byvoorbeeld ook gedurende 1988 een van die egpare wat tydens die aktwiteite van Groot Trek 150 as trekleiers opgetree het. Dit was gedurende hierdie tydperk dat sy met groot ywer begin skryf het aan haar `verse'. Na haar man se aftrede het hulle hul gevestig op die plaas Rouxland in die Morgenzon-distrik. Daar het Rita ook `n groot rol in die kerk en skool gespeel veral deur die maandelikse publikasie van DIE MOSTERTSAAD wat sy onderneem het.

Weens haar sieklike kinderjare het Rita se skoolopleiding vir langtye agterweë gebly met die gevolg dat sy met slegs `n st 6 sertifikaat uit die skool is. Ten spyte hiervan het sy deur die jare `n groot liefde vir die skryfkuns ontwikkel. Een van haar grootste wense was om verder in daardie rigting te kon studeer maar dit was haar nooit beskore nie. Die familie was egter daaraan gewoond dat sy elke tydjie wat sy gehad het aan haar "versies" bestee het. As `n oortuigde Christen het sy haar toegespits op Christelike verse wat wyd en syd versprei is, van die verse is ook in verskillende publikasie opgeneem en etlike van hulle is ook oor die radio uitgesaai. Die musiekgroep Vita Musica het tydens verskeie van hul optredes getiteld "Lied en Liriek" van haar verse voorgedra. Sy het tot op die laaste haar liefde daarvoor behou en ook haar seun gemotiveer om te begin gedigte skryf. Sy is op 31 Januarie 2006 in Bethal in die Oos-Transvaal oorlede.