Pieter F. Bruwer
Imperfektum in Afrikaans

Imperfektum in Afrikaans

Herlewing van die Woord

Sowat ‘n eeu gelede is die Imperfektumvorm waarmee Nederlands 350 jaar lede in die Kaap aangeland het, en wat vir sowat 250 jaar lank ‘n integrale deel van die formele taalgebruik van Afrikaans-Nederlandssprekendes in Suid-Afrika was, amptelik geamputeer tydens ‘n stryd oor die gedaante wat die nuwe Afrikaanse taal moes aanneem. Persone soos Gustav Preller het ‘n leidende rol gespeel in die stryd om behoud van die Imperfektumvorm maar tevergeefs -die Imperfektumvorm het gevolglik op die ashoop van die geskiedenis beland. Na hierdie amputasie moes Afrikaans vir die volgende honderd jaar op een been voortbeweeg, naamlik die oordadige gebruik van sy een oorblywende ledemaat, die Perfektumvorm (het + ge…) sowel as die gebruik van die kruk van die historiese teenwoordige tyd. Die afgelope tyd het die strakke beheer oor die aanskyn en vorm van Afrikaans verkrummel en het ‘n laissez faire benadering ontstaan met toenemende vryheid ten opsigte van die gebruik van verskillende wisselvorme. Hierdie vryheid kan myns insiens ook nou aangewend word om bogenoemde gesprek te heropen. Die groot vraag is of ons aan die begin van die 21 ste eeu moet volstaan by daardie twyfelagtige besluit wat aan die begin van die 20ste eeu geneem is om ons moderne taal te stroop van sy imperfektumvorm waardeur die beskrywing van alle verledetyds-aksies lomp en onsamehangend gemaak is? Ek voel van nee, talle twyfelagtige besluite van die vorige eeu word tans hersien en ek glo dat dit ook in hierdie geval behoort te gebeur. Indien die Jode sover kon gaan as om na 2000 jaar hul afgestorwe Hebreeuse taal af te stof en in ere te herstel, kan ons sekerlik na nouliks 100 jaar ons ge-amputeerde Imperfektumvorm afstof en weer in ere herstel – waarskynlik eers in geskrewe en daarna in gesproke vorm – selfs al is dit slegs as bykomende opsionele vorm. In hierdie opsig het ons die voordeel dat ons nie eers ‘n nuwe Imperfektumvorm hoef te ontwikkel nie, in moderne Nederlands bestaan die volledige Imperfektumvorm nog steeds - dieselfde een wat ons een honderd jaar gelede prysgegee het. Ons taal is uit sy wieg uit gemaak vir ‘n Imperfektumvorm, en hoef geensins aangepas te word daarvoor nie. Die Nederlandse vorm kan waarskynlik, dalk slegs met enkele kleiner wysiginge, weer netso in gebruik geneem en geinkorporeer word. As dit verder sou beteken dat Afrikaans daarmee weer ‘n tree nader aan Nederlands sal gee, is dit suiwer wins, en mag dit beteken dat ons ryke grootmoeders-taal- en kultuur weer vir meer Afrikaanssprekendes toeganklik sal word. Alhoewel die verbuigings van sommige Nederlandse werkwoorde baie vreemd op ‘n Afrikaanse oor val is ek van mening dat ons onsself moet dissiplineer om eerder daaraan gewoond te raak as om weer die isolerende pad te neem om te veel afwykende vorme te ontwikkel – laat ons eerder sodoende aansluiting vind by erkende gebruike in ‘n taalgebied van meer as 20 miljoen sprekers. (Die verdere voordeel is dat bykans alle imperfektumvorme wat vir Afrikaans nodig is reeds in Nederlandse woordeboeke verskyn.) Bewerings dat Afrikaanssprekendes nie in staat is om ‘n Imperfektumvorm aan te leer, te bemeester en te gebruik nie, is te gek vir woorde want hulle leer daagliks hoe om die Imperfektumvorm in Engels te gebruik en gebruik dit doodnormaal in hul omgangstaal (In Engels word die Imperfektum oorwegend gevorm deur die agtervoegsel -ed: by swak werkwoorde: ‘dream’ word dus ‘dreamed’)– in Duits en Nederlands, en dus ook Afrikaans, (gebeur dit deur die agtervoegsel –de/te: dit wil sê ‘droom’ word dus ‘droomde’ ens. Ten opsigte van die sterk werkwoorde word daar van verbuigings gebruik bv Eat/ate; sing/sang ens... in Nederlands en Afrikaans is daar ook heelwat van hierdie vorme wat aanvanklik vreemd sal klink, soos val/viel; roep/riep; vra/vroeg; kom/kwam ens soos genoem is dit egter bloot iets om aan gewoond te raak (daar het tot dusver wel enkele van hierdie verbuigings in Afrikaans behoue gebly bv kan/kon; wil/wou; sal/sou ens... dit sal dus nie heeltemal ‘n vreemd gebruik wees nie.) Waarskynlik sal hierdie Engelse blootstelling daartoe lei dat die Afrikaanse gebruikwyse van die Imperfektumvorm in die praktyk meer op Engelse as Nederlandse lees geskoei sal wees, want dit is wat Afrikaanssprekendes gewoond is om te gebruik, al maak ons van Nederlandse erfgoed gebruik. Alhoewel dit dus vir ‘n rukkie snaaks op die oor sal val vir diegene met geen blootstelling aan Nederlands nie, word dit binne ‘n enkele maande die gewoonste ding denkbaar en binne ‘n jaar sal almal wonder hoe ons ‘n eeu lank daarsonder kon klaarkom. Die langste reis begin met die eerste tree en ek gee graag so ‘n tree deur weergawes van ‘n vyftal verhalende historiese gedigte sowel as die Afrikaanse weergawe van die drama “Die Duister Keuse” in die Imperfektumvorm in te sluit – net om te bewys dat dit kan en dat Afrikaans nog meer soepel en loslyf sal word– dat dit sonder groot drama kan gebeur en sonder dat die hemele val. Mag die saad val waar dit wil.